Op vyf en twintig is Rebecca Fagan in besit van 'n regsgraad, 'n rugsak, 'n groot mond en baie guts. Sy het twee jaar lank druiwe gepluk in Frankryk, in Italië op 'n olyfplaas gewerk en in Duitsland was sy 'n kelner. Maar nou is sy terug in Suid Afrika en sy soek 'n “regte” werk. Verkieslik een wat opwindend is en 'n groot salaris betaal. Toe sy hoor dat Julian Hoffman, derde geslag erfgenaam van ‘n multibiljoenrand-maatskappy, op soek is na 'n persoonlike assistent, besluit sy om aansoek te doen. Maak nie saak dat die pos nooit in ‘n koerant geadverteer is nie. Wie nie waag nie, sal nie wen nie, is haar leuse. Rebecca wag hom dus een middag in in die maatskappy se parkeergarage. En stel haarself voor aan hom met die woorde: “Ek kan uitstekend organiseer en ek steel nie papier of skuifspelde nie.” En op haar T-hemp staan geskryf, I think therefore I am single. Vir 'n oomblik dink Julian dis die eerste April, maar hy leer baie gou dat Rebecca nie iemand is wat maklik moed opgee nie, en dat sy áltyd blatant eerlik is. Ná die tyd kan hy haar aanstelling nie eens aan homself regverdig nie. En Rebeccca? Rebecca kan nie begryp waarom sy jammer voel vir ‘n man wat dan alles het wat sy hart begeer nie . . .